VOORBEELDE VAN OPSTELLE en HOE OM
AFRIKAANSE OPSTELLE TE SKRYF.
AFRIKAANS HUISTAAL
,. Opstelle Wenke by die skryf van ’n opstel
Voorbeeld van ‘n beskrywende opstel
My ouma
Hier staan my ouma, haar bleek gesig vol rimpels van haar lang lewe.
Elke plooi is ’n storie:
’n grinnik saam met haar pa as hulle plas in die saffier-see,
’n laaste roep voor die familiehond uitgesit moes word,
die geheime glimlag vir haar enigste geliefde.
Haar smaraggroen oë hou nog die trane van die dag toe sy haar dogter verloor het toe sy maar
net ses jaar oud was. Maar hulle hou ook die trotse trane vir haar enigste seun op sy eerste dag
op universiteit.
As ek na my ouma kyk terwyl sy by my oupa se hospitaalbed staan, onthou ek die ontelbare kere
wat hulle in die tuin gesit het, my oupa se hand liggies op my ouma s’n. Stilweg deel hulle
mekaar se gedagtes soos net ’n ou paartjie wat vyftig jaar getroud is, dit kan doen. Hulle het
altyd gesê dat jy elke dag tyd met die mense wat jy lief het, moet spandeer sodat as hulle gaan,
die herinneringe in jou hart bly en daarmee saam ook die persoon.
Dis wat ek sien in my ouma se treurige glimlag die dag toe sy vir die laaste keer my oupa se
koue hand vasgehou het. Dis ook wat ek onthou as ek aan my oupa dink.
As jy die betekenis van die lewe wil uitvind, kyk na ’n kind, maar as jy die gereedskap wil hê om
te lewe, luister na ’n grootouer.
,Voorbeeld van ‘n beskrywende/bespiegelende
opstel
Deur my venster sien ek …
Deur my venster sien en hoor ek ’n simfonie. Misdaad, armoede, hartseer en verlore drome.
Drome wat stukkend op die Kaapse Vlakte lê. Ek sien ’n gemeenskap met ’n desperate pleidooi
om hulp. Maar, te midde van die seer, as die venster soms toe is, sien ek my spieëlbeeld in die
glas en sien ek nogtans hoop en ‘n visie van hoe anders die lewe kán wees.
Die lewe is ingewikkeld. Hoekom is dit dat sommige mense luukse lewens lei, terwyl ander
sukkel om te oorleef? Die antwoord is eenvoudig: Geld.
Partykeer wonder ek hoekom ons lewe op die manier waarop ons lewe, met soveel reëls,
verpligtinge, probleme en vrese. Mense het die natuurlike instink om mekaar te kul en ek dink dit
is ons grootste ondergang.
Sommige mense lewe uitbundige, losbandige lewens en geniet en gebruik al die hulpbronne wat
God vir ons op aarde geplaas het. Dit is onregverdig dat net diegene met die geld, dié wat gulsig
genoeg is om dit uit te buit, dit kan geniet
Deur my venster sien ek raaisels en vrae.
Vrae wat mense te bang is om te vra. Vrae met eenvoudige antwoorde oor die ware aard van
dinge en probleme. Die waarheid is dat die mense met rykdom hierdie wêreld regeer en
oorheers en dit is hartseer om te sien hoe hulle dit ook vernietig.
Maar dan is daar ook diegene van ons wat in misdaad verval weens omstandighede en wat dan
ook help met die vernietiging van die wêreld. Ek wonder hoe hierdie wêreld sou gewees het as
alle mense hul rykdom met ander gedeel het.
Ek is net ’n gewone ou, iemand met baie onbeantwoorde vrae. Ek wonder oor dinge wat ander
mense blykbaar net aanvaar.
Ongelukkig kan ek nie eeue van verkeerde lewenstyl verander nie; ek moet maar daarby aanpas
sover ek kan.
, Ek pas nie aan deur tyd te mors deur net deur die venster te staar nie, maar deur ’n poging aan
te wend om te fokus op my eie weerkaatsing in die venster. Al is ek nie die slimste of die rykste
of die aantreklikste persoon nie, as ek na myself kyk, voel ek positief. En optimisties.
Dit is onmoontlik om alles om jou te verander, maar dit is makliker om jou uitkyk op die lewe te
omskep in ’n positiewe siening. Ons moet sorg dat ons nie ons lewe lank deur dieselfde venster
na die dieselfde omgewing kyk nie.
Herinneringe van Toeka tot nou
Ek sit en tuur verlangend by die venster uit ... vreemd ... ver ... verlore... Skielik roep die nostalgiese
reuk van my ouma se moerkoffie verslete herinneringe op. Ek wil kombuis toe hardloop. Haar
omhels. Die klank van haar stem in my ore hoor sing. Die reuk van vars plaasbrood in my neus
innooi. Wat keer my tog? Die vreemde ... verte ... verlange. Ek mis my oupa se lang sigare – ‘n
mengsel van nektar en nostalgie. Hy kon ‘n storie skets wat Da Vinci se pogings na popspeel laat lyk
het. Tyd het stilgestaan. Ek sou wil hê dit moes stilstaan. Stop ... briek ... staan. Waar is die haan
vroegoggend as ek moet opstaan? Die geblêr van die skape in die kraal? Ek mis die geluide ... die
gesprekke ... Ek wens ek kon die tyd terugdraai. Dit stop. Die herinneringe herleef: Ouma se stem so
soet soos heuning. Haar boerekos wat smelt in my mond. Die reuk van vars linne op my bed. Haar
reuk. Verlangend ... verdwynend. Die familiefoto op die lessenaar is verslete. Vaag. Verkrummeld.
Dit is asof dit my herinneringe aangesteek het. My film het plek-plek opgeraak. Ek is verbouereerd.
Bang. Kwaad vir myself. Hoekom kan ek nie meer onthou of my gedagtes ontvou nie? Ek probeer my
gedagtes orden - ‘n takie ver bo my vuurmaakplek. Wanneer? Waar? Wat? Dié vrae wat deur my kop
maal soos verslete klere in ‘n wasmasjien. Dit is of my gedagtes skoongewas is. Uitgewas. Opgewas.
My gedagtes is nie soos nuwe klere wat jy in ‘n winkel kan koop nie. Dit is prysloos. Onherwinbaar.
Ek wens daar was ‘n winkel waar gedagtes beskikbaar was. Waar ek kon gaan soek ... gaan verstaan.
Ek wil teruggaan. Na die reuk van ‘n vleisie op die kole. ‘n Melksnor maak met die melkkoei se
nektar. Ek mis die plaas ... die land ... my land. Tyd staan stil in Afrika, maar hier? Dit vlieg. Ek wil
vlieg. Weg van hierdie wildernis. Terug. Tuis in my huis. Ek wil weer die son op my lyf voel steek.
Verlore raak in die tydlose trem van my tuiste. Dit voel so ver ... verlate. Ek wil uitkom. Wegkom.
Terugkom. Die naarheid slaan my soos ‘n spyker in die keel. Ek verlang na ... Menswees. Tuiswees.
Tydloosheid. Kom haal my. Ek wil nie meer in die karakterlose katastrofe bestaan nie. Neem my
terug. Terug na my herinneringe ... helde ... hoop. Ek wil weer in my bed wakker word. Ek wil weer
onthou ... Alles lyk vreemd ... ver ... verlore.
Hoe lyk my toekoms?
Op die hoek van Dorpstraat is daar ‘n pragtige klein koffiewinkel wat wegkruip onder die groot
akkerbome van Stellenbosch. Dit is so gewild dat mense toustaan vir sitplek. Dit is my
toekomsdroom ... Die ou houtdeure en vensterrame kraak onder Stellenbosch se warm somerson,
maar wanneer jy die winkeltjie betree, is dit koel en vars as gevolg van die dik mure en die hoë
plafon. Die reuk van verskillende dekadensies ontvoer jou na ‘n fantasiewêreld soos min ander. Die
asemrowende koeke en lekkernye loer vir jou vanuit die yskas wat voor in die koffiewinkel staan –