AFK2604
Analyzing the
spookstorie
“In die tonnel”
written by J van Lill
, In die Tonnel - geskryf deur Johan van Lill
Martin haat dit om lang ente te moet ry, al vereis sy werk dit. Met die gereelde ritte
het hy nou al vrede gemaak ... maar die pad is anders. Hy moenie daaraan dink nie. Hy
moet homself probeer oortuig hierdie bergpas is nes enige ander. Carin ... Na amper
vyf jaar kan hy haar steeds nie uit sy gedagtes kry nie. Veral die afgelope twee dae,
sedert hy gehoor het hy moet na daardie dorp gaan, hy moet oor daardie berg, kom sy
aanhoudend by hom op. Hy sweet. Die berg raak groter hoe nader hy kom.
Toe sien hy die bordjie: Tollgate. Hy vloek. Dan moet hy nog betaal ook!
Net 'n entjie verder is nog 'n bordjie: We connect you. Seker om dit te probeer
regverdig dat hulle jou so baie vra vir die voorreg om deur die nuwe tonnel te ry.
Toe Carin in hierdie bergpas dood is, was daar nog nie sprake van 'n tonnel nie.
Martin skud sy kop. Moenie aan haar dink nie!
Maar ...
Dit was laat die aand toe hulle die oproep kry. Haar ma, wat aan die kant van die berg
gewoon het, het 'n hartaanval gehad. Carin wou dadelik deurry en Martin wou saam,
maar daar was werk om te doen. Toe ry sy alleen. Die volgende oggend het hulle die
motor gekry; dit het deur die reling gebars en in 'n klofie afgestort. Vir haar het hulle
nooit gekry nie. Martin het hul huis verkoop en die dorp verlaat. Hy wou nooit
terugkom nie en as dit nie vir sy werk was nie, het hy nie.
By die tolhek hou hy stil en oorhandig twee note aan die beampte. Sy gee vir hom
kleingeld en die slagboom lig op sodat hy kan deurry. 'n Entjie verder lag die tonnel
breemond. Hy skakel sy kopligte aan voor hy dit binnegaan, maar is verras oor hoe
donker dit nietemin is. Dit voel asof hy gesluk word; die mond maak toe agter hom.
Die radio begin suis en gaan dood. Hoe lank is die ding, die keelgat? Beton, oral waar
hy kyk. Skielik voel hy ontsettend af, gesonder, en benoud. Daar is geen ander motors
nie. Dit kan nie meer so ver wees nie, troos hy homself. Dit voel asof die tonnel nouer
word, asof dit afwaarts lei. Hy is besig om dieper en dieper ondergronds te gaan en
nou, nou ... Toe ruik hy haar parfuum en 'n rilling gaan deur hom. Hoe kon hy ooit die
reuk vergeet? Uit die hoek van sy oog sien hy daar is iemand in die passasiersitplek en
hy hoef nie te kyk om te weet wie nie.
Tog, hy kyk. Sy lyk net soos die dag toe hy haar ontmoet het. Sy glimlag. "Jy kan nie
hier wees nie," hoor hy homself se. Hy herken amper nie sy stem nie. "Ek het jou so
gemis," se Carin en ook haar stem klink anders, asof dit van ver af kom. Hy knip sy oe
en draai sy kop vorentoe. Hy weet as hy weer kyk, sal sy weg wees. Maar sy is nog
daar. "Moenie bang wees vir my nie," se sy. "Ek is nie, ek ... " "Ek het jou kom haal. Ek
kan nie so alleen wees nie." Toe raak hy bang, want daar is tog net een manier waarop
hy by haar kan wees. Wat dan van die nuwe lewe wat hy so lank gevat het om op te
bou? Wat van Joan, met wie hy vyf maande gelede getrou het? Hy is gelukkig,
verdomp! "Ek wil nie gaan nie." "Dis nie jou besluit nie." Toe wil hy skree, want sy leun
oor en hy voel hoe haar koue om hom vou. Haar hand op sy regterbeen is ysig. Sy voet
trap harder op die petrolpedaal, hy het geen beheer daaroor nie.