ROEPMAN AS ROMAN
3.1 Die skrywer
Jan van Tonder het ’n lang stilswye van vyftien jaar verbreek met sy roman Roepman, waaraan hy drie jaar
gewerk het. Volgens hom is dit die naaste wat hy seker aan ’n outobiografie sal kom. Raakpunte tussen hom en
die hoofkarakter is sy kinderjare as lid van ’n groot gesin in een van Durban se spoorwegbuurte.
Volgens hom het die blootstelling en min weelde van ’n spoorwegkamp en die koestering van ’n groot
gesin hom as mens en skrywer help skep.
Wat Roepman anders as sy ander boeke maak, is dat hy dit sien as ’n spesiale geskenk – ’n boek wat hy ’n
leeftyd lank in sy gemoed gedra het en wat nie ongeskryf kon bly nie. In die jaar van sy vyftigste verjaardag het
hy ’n dringendheid ervaar dat dit daardie jaar moes verskyn.
Ander werke is Wit vis (sy eerste roman) in 1983, die tronkverhaalbundel Aandenking vir ’n vry man, Is
Sagie en die roman Die Kind wat bekroon is met die ATKV- en FAK-prosaprys.
Jan woon die afgelope vyf jaar op Oudtshoorn in die Karoo, werk al 13 jaar aan ’n storie oor die
volstruisbedryf, het onlangs ’n gedig op LitNet gepubliseer, werk aan ’n digbundel en het weer ná sewe jaar
begin skilder.
Treine en treinspore hou vir hom ’n groot bekoring in – net soos die ander passies in sy lewe naamlik
Roos, sy kat, en Berta, sy hond.
Skryf was nog altyd in sy bloed – vandat hy as jong verslaggewer in ’n nagnuuskantoor in Johannesburg
begin werk het. Volgens hom sou hy ’n ander mens gewees het sonder skryf in sy lewe.
Hy het met Roepman sy herkoms probeer verstaan, wie hyself was en in watter mate sy omgewing hom
gevorm het. Voorts is Roepman ’n klag teen die kerk in die sestigerjare wat nie sy opvoedingstaak gestand
gedoen het nie en saamgesweer het met die regering om mense te onderdruk en kunstenaars as sondaars voor te
hou. Ook is dit ’n klag teen die onderwys wat ’n heilige taak het om op te hef, maar ten spyte daarvan vrye
denke beperk het.
3.2 Titel
Die titel Roepman plaas die leser dadelik midde-in die spoorwegwêreld. ’n Roepman was daarvoor
verantwoordelik om almal betyds wakker te maak vir hulle skofte. Hy het vroegoggend met sy trapfiets gery en
moes toesien dat elke skofwerker wat deur hom wakker gemaak is, langs sy naam teken. Wanneer hy iemand
wakker geklop het, gee hy ’n boek aan waarin almal se
8
name geskryf staan – stokers, drywers, shunters (rangeerders), kaartjiesondersoekers en wielkloppers. Hy moes
weet hoe laat elkeen moet inval. Dit wil voorkom asof dit ’n uiters nederige werk was waarop neergesien is,
maar tog kon die hele spoorstelsel nie funksioneer sonder hierdie sleutelrol wat ’n roepman vervul het nie.
3.3 Verhaalstof
Timus, ’n twaalfjarige seun, word groot in ’n spoorwegkamp in Durban. Hy is een van sewe kinders en is dus
gewoond aan deel en tevrede wees met slegs die nodige om te oorleef. As tiener ervaar hy groepsdruk en het ’n
minderwaardigheidsgevoel oor sy agterstand ten opsigte van sy fisieke ontwikkeling.
Sy ouers, Ada en Abram, is toegewyde, voorbeeldige mense wat goed vir hul kinders sorg. Ada is ’n
onderdanige vrou en ondersteun Abram in al sy besluite – selfs al stem sy nie noodwendig daarmee saam nie.
Abram regeer sy gesin met ’n ysterhand, glo onvoorwaardelik in doktor Verwoerd en is ’n onwrikbare
kerkganger wat gekant is teen enige verandering.
Timus se oupa sterf en ouma Makkie kom woon by hulle – aanvanklik veroorsaak dit ongerief, maar met
haar warm persoonlikheid en die lewenswaarhede waarmee sy vorendag kom, raak sy gou deel van die gesin.